Thursday 3 March 2016

Stom

Die kraaie het haar tong gesteel,
gister, so tussen vyf en ses,
net nadat “Jy moet my nooit vergeet”,
haar laaste woorde ooit aan my sou wees.
Die kraaie het haar tong gesteel
gistermiddag laat, so net voor ses,
en selfs Tyd het stil, verbaas, gaan staan,
verstomd oor hoe bitter kort n afskeid kan wees.

Ek hoor haar stem vir die heel laaste maal
voor die gedagtes op haar lippe sterf,
terwyl die son wat na sy dood toe val
die pers-blou berge rooi-oranje verf.
Onder die skemer sluier wat oor die wereld kruip
loer skadu skimme agter klippe en bome uit,
vreet die brokkies dag wat bewend-bang deur krake sluip
en suig die reenboog, deur my oe, by my drome uit.

Van verbrande brue bly geraamtes oor,
kraaie aas in doodloop strate hulle tol,
hier kom die nag, dieselfde le weer voor,
tyd vir dink, tyd vir wens, tyd om rond te rol.
Aan die ounag wat uitasem in my spore volg
klou die doofstom stilte en blinde donker tevergeefs,
stadig krepeer my gestremde reisgenote tog,
en is ek weer alleen, soos net ek alleen kan wees.

Maak liefde met my My Engel,
my Minnares, my Valentyn,
laat rus jou kop hier teen my skouer
en hou my vas tot al my angs verdwyn.
Ek verlang na jou hart se klop,
na die klank van as jy asem haal,
asof dit woordeloos  weergalm
 “Ek is lief vir jou”, in n ou vergete taal.

Uit die verlede steel ek n rukkie tyd
waar skoenlappers uit kraaie morfiseer,
en deur newels ver van die werklikheid
dans my sprokie prinses my lewe deur.
Sy troos my en soen my en bind my hart met vergeet,
styf hou sy my vas, en soos alleen haar liefde kon
bedek sy my bleek naakte siel in n Josefs kleed,
kleur my lewe in, en skink vir my n beker son.

Die klein hand wys so skuins na drie,
die grote staan doodstil op ag,
van my gisters bly n fluister oor,
soos kraaie wat sweef teen n pikswart nag.
Deur blinde donker flikker Hoop
as sterretjies en komete deur,
so is more tog weer amper hier,
al voel dit nou miskien soos die heel laaste keer.


No comments:

Post a Comment