Saturday, 7 November 2015

Daisy de Melcker

Die ek wat ek nie rerig is nie breek
die grendel van sy lewe in geheimenis,
die slotte op die kerker van sy smart,
en ontsnap sy lewenslange kluister vonnis.
Met vele martelplanne in sy hart
kruip hy met doodsgedagtes uit die duisternis,
en grynslag oor hierdie perfekte part,
van voorgee, moor en pynig, wat nou syne is.

Die ek wat ek nie rerig is nie weet
jou toekoms sonder my moet hy in hartseer doop,
so met n rooi roos tussen sy tande,
gryp hy ons liefde en dans Die Tango van die Dood.
Hy gaan harteloos voort met sy planne
en gee voor sy kosbare offer is gehoort
maar my hartseer rol nat oor my wange
terwyl hy die lewe uit ons  liefde versmoor.

Daisy, Daisy, Daisy,
jy was lelik soos die nag,
maar ek wens jy kon nou my hand vashou.
Daisy, Daisy, Daisy,
my Prinses van Duisternis,
hoe vermoor jy sonder rou?
Daisy, Daisy, Daisy,
ek en jy is tog dieselfde,
y gebruik net gif, waar ek van woorde hou.

Die ek wat ek nie rerig is nie kyk
hoe ons bleek gebloeide liefde verlep en kwyn,
naak vas gekruisig teen die sekel maan
met harde spyker-sinne en woorde van asyn.
Ek smeek pleit by God tog dat jy verstaan
maar my gebede val soos klippe en verdwyn
nes sout traan druppels in die oseaan,
vermeng en afgewater, om nooit weer te verskyn.

Hoekom is dit as jy jou oe toemaak
word die pyn met doodsrukke uit jou hart verdryf?
Dit voel of die lewe weer draagbaar raak
as jy die verhaal teen die nag in swart oorskryf.
Ek het vir jou n moordberig gebring,
dit kom nie uit my hart nie, ek moes dit gaan steel,
sluk vinnig al my woorde af Liefling
dan proe die gif soeter, diep agter in jou keel.

Daisy, Daisy, Daisy,
jy was lelik soos die nag,
maar ek wens jy kon nou my hand vashou.
Daisy, Daisy, Daisy,
my Prinses van Duisternis,
hoe vermoor jy sonder rou?
Daisy, Daisy, Daisy,
ek en jy is tog dieselfde,

jy gebruik net gif, waar ek van woorde hou.